KROG, Antjie
    
      
    
      
    
      
    Jy Raak My Nie Meer
    
      
    
      
    die haartjies op jou wange
  
die bitterwit huisies van jou mond
die warm holte van jou hand
die soet lepel van jou tong
die droë distel van jou liefde
roer my nie meer
jy het glansloos geword soos dié om jou.
En nou eers na al die baie stil dae
kan ek sonder hartseer
aan jou dink
en bly wees oor jy nie weet
hoe my lekhart leegbloei
    in my oë.
    
      
    
      
    
      
    Townshipdagboeken 
    
      
    
      
    hulle sleep hom aan sy bene soos 'n hond 
    
      
    hulle skraap sy brein in 'n gat in die grond 
    
      
    hulle trap dit vas met hulle stewels 
    
      
    dit was helder oordag 
    
      
    en stikdonker 
    
      
    dit hou nooit op in my hart nie 
    
      
    dit kom altyd terug 
    
      
    dit vreet my uitmekaar 
    
      
    Sonnyboy, rus in vrede my kind 
    
      
    ek vertaal jou vir vandag uit die dood 
    
      
    
      
    
      
    MA 
    
      
    
      
    Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
  
sonder fensie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
    ‘n kaalvoetgedig
    
      
    
      
    want jy maak my groot
  
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
    vir jou Here God.
    
      
    jou moesie-oor is my enigste telefoon
  
jou huis my enigste bybel
    jou naam my breekwater teen die lewe
    
      
    
      
    ek is so jammer mamma
    
      
    dat ek nie is
    
      
    wat ek graag vir jou wil wees nie
    
      
    
      
    
      
    Ma sal laat wees
    
      
    
      
    dat ek na julle toe terugkom
  
moeg en sonder herinnering
    dat die kombuisdeur oop is ek
    
      
    
      
    inskuifel met tasse haastige presente
  
in die gange sluip rond my gesin
    se verdrieteige drome ruite aangepak
    
      
    
      
    van hulle verlate taal in die harde
  
badkamerlig borsel ek my tande
    druk ‘n pilletjie op my tong: Do.
    
      
    
      
    dat ek verbyloop waar my dogter slaap
  
haar lakens netjies geplat onder haar ken
    op die spieëltafel steier sywurms in goud getoom
    
      
    
      
    dat ek my seuns verby kan kom
  
fronsend teen kussings aangevuis
    hul onrugstige ondertone kneus deur die kamer
    
      
    
      
    dat ek ‘n naghemp vroetel uit die laai
  
inglip in die donker skreef agter jou rug
    dat die warmte na my oorvloei
    
      
    
      
    maak my nog digter nog mens
  
in die hinderlaag van asem
sneuwel ek tot vrou.