 
    
    
      
    
      
    
      
    
      
    LOUW, W.E.G.
    
      
    
      
    
      
    Nagreën
  
    
      
    Die reën skuifel deur die straat,
  
verby my venster, mensverlaat ...
Soos 'n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos 'n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
    in die lamplig, teer en droef papawerrooi.
    
      
    
      
    
      
    Vaalvalk
    
      
    
      
     Wit is die wêreld
  
van outydse wee,
en 'n treurige wals
is die vroemoresee;
dou oor die duine, geen windjie wat waai,
     net 'n vaalvalk wat sing soos hy draai, soos hy draai...
    
      
    
    
      
    
      
    Ek sal opstaan
    
      
    
      
    Ek sal opstaan en na my vader gaan;
    
      
    opstaan uit my vodde en my vuil;
    
      
    opstaan en onder die volle maan 
    
      
    wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
    
      
    aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
    
      
    om alles te vergeet, en te vergewe
    
      
    die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
    
      
    dat ek weer soos 'n kindjie klein die lewe
    
      
    vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
    
      
    in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
    
      
    dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
    
      
    die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
    
      
    Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
    
      
    en moet ek gaan, en aan sy voete val.
    
      
    
      
    
      
    
    Ek Moet Nog Één Maal Weer Bemin
    
      
    
      
    Ek moet nog één maal weer bemin
    
      
    soos die seemeeu die see,
    
      
    snik oor die blink waters van 'n siel,
    
      
    en draai en draai oor die skaduskyn
    
      
    van my eie beeld in haar -
    
      
    Ek moet nog één maal weer bemin
    
      
    soos die son die blomme, en straal
    
      
    al die hitte en die brandgloed
    
      
    van my siel oor haar -
    
      
    nog één, net één maal
    
      
    die bloedbitterheid van 'n soen voel soos die dood,
    
      
    met trane eet my brood -
    
      
    
      
    
      
    
    Herdenking
    
      
    
      
    O my liefste, as die appelbloeisels
    
      
    weer tenger aan die takkies hang,
    
      
    moet ek dink aan jou en wonderlik
    
      
    stil in my hart verlang
    
      
    na daardie eerste laaiende liefdestyd
    
      
    toe jy vir my was my daelikse brood,
    
      
    die helder water wat ek drink
    
      
    in my bitter eenlingnood...
    
      
    
      
    
      
    Om boer te wees
    
      
    
      
    O om 'n boer te wees wat werk
    
      
    met sy hande in die son
    
      
    die liewe, lange dag; om saans
    
      
    moeg terug te kom
    
      
    van die lande, en te slaap
    
      
    tot die rooidag deur die vensters breek,
    
      
    en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
    
      
    die ploegstert vas te hou .
    
      
    
      
    O om boer te wees en te werk
    
      
    in God se sonskyn en reėn;
    
      
    om nooit te twyfel dat Hy weet
    
      
    wat die beste is; om nog te glo,
    
      
    as sy hart wil breek,
    
      
    en voel dat hy, boer alleen,
    
      
    met God kan praat, en dank
    
      
    as laag-druipend daal die reėn .
    
      
    
      
    
      
    Bitter winter
    
      
    
      
    Wat se mens as dit skemer word,
  
as oor die vlei die wilde eende
met ver verlate skreeue vlieg?
Wat weet mens in die winternag
as die slaap van jou gewyk het en jy
met oop oe in die donker le?
Is woorde dan nog nodig? Of weet
jy dat die sterflikheid soos reen
    diep tot in die wortel week?
    
      
    
      
    
      
    Oktober
  
    
      
    Vir M.A.B
  
    
      
    Die hele, lange dag het hier die wind gewaai,
  
die duine oor tot waar die swarte see nou skuim;
en oor die polder staan, verlate-ver, die maan;
die hemel is leeggewaai; in yle mis
bly daar geen sterre oor; maar net dié droewe glans:
die bleek-verlate duine en die vywers, waar
die silwer-grys pluime van die riet verwaai...
Maar in die Boland is dit nou Oktobermaand!
    
      
    Die aarde dáár is stil en koel, en oor die vlei -
  
o onuitspreeklik teer, verlange van my hart! -
geur nou die aandblomme en vou langsaam hul blare oop.
Die hange van die berg is soet met jonge gras;
ek sien bo deur die bloue dennebos hoe breek
die helder brander van die eikegroen en slaan
bo teen die hoogste krans vas; en in die aand,
hoe roep die reënvoël daar: 'n ligte pêrelsnoer,
'n sprankelend yle vlam, 'n silwer ketting deur
die koele skemering... En teen die oostewind
stuif uit die hoë, goue kruin die denneboom!
O ek moet t'rug: ek kan my hart nie meer bedwing,
ek kan die liefde - lank bedrieg en wysgemaak -
van ál die dinge nie ontbeer... Hier waai die wind,
    en deur die wind, die blare en die eerste reën.
    
      
    
      
    
      
    Die Teken 
  
    
      
     Langs die stofpad in die witte somerson 
  
het ek ’n vreemdeling gekry;
sy gang was van die wye westewind,
sy bruine oë blink en bly.
    
      
    In puin van angs en twyfel aan myself, 
  
soos een van god en mens verlaat,
en willoos, deur die oue, bitter drang gedryf,
het ek hom in my hart gehaat.
    
      
    Droewig was sy verre oë soos die dou 
  
toe hy sy hand verhef in sterk
en vrome stil gebaar, dat ek kon sien
    die rooi vlam van die spykermerk.