KRIGE, Uys
Plaashek
Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie...net
'n luggie wat
skrams aan die ritselende grassate vat.
Daarbo die blou, blou lug,
daaronder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
'n groen swier.
Niks stoor die yle swewende
Bergstilte hier.
Na al die jare maak ek weer
'n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
Om my hier by 'n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?
Die hek staan in die skad’wee van
'n kremetart.
Die stilte in my's volkome met
Niks troebels, niks verward.
Ek lig die knop...Ek maak
'n hek oop in my hart.
Dood, die onsterflike / 5
Tree saggies, saggies, moet hul nie verras.
Hier klop 'n duisend harte in die gras,
hier sluimer hul waar nou die bye soem,
hier gloei die rose wat eens wange was
Hier waar die klokgras kopspeel in die wind,
hierwaar die wêreld stil is soos ’n kind
wat slaap, hier rus hul, droom hul nu terwyl
die lente blomme om hul slape bind.
Verse/5
Deel jy die strak geduld, die swye van die palm
wat steeds as seng en skroei die son, rustig sy kalm
koel skaduw bied… deur die snikhete stilte wag,
om ruisend met die reën te sing sy soet psalm;
die krag, die weerstand van die stoer olyf wat stoei
en stry as teen sy stam rukwinde stormloei,
aldus hul wrok trotseer, dieper sy wortels dring
om ferm-vas hom tot die aardekors te boei;
die stilte van die sterrenag, groots, ongemeet,
wat donker vloei soos ’n rivier, vol, diep en breed
dan sal jy dalk jou wanhoop en jou wankelmoed
oorwin, jou met jou lot versoen, en ook jou leed.