OPPERMAN, D.J.


Sproeireën


My nooi is in 'n nartjie,

My ouma is kaneel,

daar's iemand... iemand in anys

daar's 'n vrou in elke geur!


As ek 'n stukkie nartjieskil

tussen my vingers buig of knak,

breek uit die klein sproeireën

wat geurend om my hand uitsak,

die boorde weer van swartfoloos

en met die nartjies om my heen

weet ek hoe dat 'n vrou kan troos


O, my nooi is in 'n nartjie

my ouma in kaneel,

daar's iemand... iemand in anys,

daar's 'n vrou in elke geur.


Vuurbees


Die buffel ken geen metafisika:

hy soek die soetgras

en die kuil,

hy sal die kalf karnuffel,

horings in sy vyand gra,

die koei besnuffel,

teen hael gaan skuil,

maar geen vrae oor môre vra –

die buffel ken geen metafisika.


Alleen die mens

tref in sy swerwe

tussen hede, toekoms en verlede

die spleet tot grotte

van die rede:

hy maak ’n mes,

’n vuur,

skep gode,

dink aan sterf,

prewel gebede

en moet beswerend teen ’n muur

van sy spelonk die buffel verf;


die buffel van die metafisika:

die vuurbees in homself

volg, buig of bars,

enduit sy drif en drome na,

en prikkels van die brein

word piramides, Laaste Avondmaal,

wiel, chroom,

projektiele, produkte van atoom,

et cetera.


En voor sy besete blik

besef die enkeling

ontsteld

hy sal ook nie terugskrik

vir die alles-uitwissende slagveld –

stukkend lê alreeds

die Parthenon en Hirosjima

in die bose skoonheid van geweld.

Die buffel ken geen metafisika.



Nagwaak by die ou man


Die wind waai waar die otter blink die kuil

verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,

fluit uit spelonke van die nag en ruis

egalig deur basbome om die huis,

maar tussen balke en vaal mure brand

‘n kersie in die kamer stil eenkant

oor sy beroerte-liggaam, soos ‘n maan

oor stukke seilskip teen ‘n kaap vergaan,

waar ander strome aan die wrakhout roer

en weg van wind-omwaaide rotse voer.
…..
Maar wind sal waai, ’n otter blink sy kuil

verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,

die lanp sal oor my liggaam brand, ’n maan

oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,

en uit my sal die jongeling op die strand

hom vind waar bosse van ’n nuwe land

waaroor die wind nog waai, die weerlig vleg,

en teen die tier sal hy die stryd besleg

maar weet ons voorvaders met ruie baard

die streke van die gees bly ongekaart.